Leon van Nierop gesels met die regisseur

Leon van Nierop, bekende rolprentresensent en filmkundige, het die kort rolprentweergawe van Dirk Hermann se kortverhaal, Begrond, gekyk en die volgende vrae aan die jong regisseur, Elrich Yssel, gestel. Eerstens wou hy van Yssel weet hoe hy die verwerking van kortverhaal na rolprent aangepak het.

ELRICH YSSEL:

Toe ek die teks van Begrond verwerk het, was dit duidelik dat hierdie verhaal veral oor hoop gaan en ek het dit in my regie probeer uitbeeld. Hierdie hoop is deur ʼn sameloop van omstandighede en gebeure verkry, maar dit was te veel om  behoorlik te vertel. Ek was teen die idee van ʼn storie wat oor ʼn kort tydperk afspeel en het toe besluit om iets meer ekonomies te skryf wat oor ʼn langer tydperk afspeel. Dit het ongelukkig die geleentheid vir die ontginning van veelvlakkige emosies beperk, maar daar moet onthou word: dit was ʼn kortverhaal en ek wou eksperimenteer met die storielyn binne beperkings. Ek is veral beïnvloed deur Jean-Pierre Jeunet se film A Very Long Engagement (2004).

Die visuele taal en styl van die film was meesterlik, maar met ʼn beperkte begroting het ek geweet dat ons uitdagings op die filmstel gaan hê en dat ek sal moet aanpas en verskraal, veral vir onvoorsiene gebeurlikhede op die stel.

Ek wou nie bloot fokus op ongelykhede en die ongeregtighede wat daardie tyd in Suid-Afrika gekenmerk het nie. Dit is nie waaroor die storie vir my en Dirk Hermann gegaan het nie.  Ek wou fokus op Katryn se persoonlike ervarings wat tot haar dagboekinskrywings gelei het. Ons moenie uit die oog verloor dat hierdie storie uit Dirk Hermann se pen gekom het en op sy agtergrond en sy familiegeskiedenis geskoei is, en dus nie noodwendig gemanipuleer is deur sy siening nie.

 

VRAAG: Hoe het jy te werk gegaan om reg aan hierdie verhaal te laat geskied op so ʼn klein, beperkte stel?

Ek het vroeg vrede gemaak met ʼn kleiner stel. Ek het gehoop dat indien ons veral op nabyskote konsentreer, ons dalk daarmee kon wegkom, maar ek het besef dat ʼn regisseur nie na willekeur sommer net kan maak en breek nie. Dis byna onmoontlik om ʼn kleinerige stel, of in dié geval ʼn klein konsentrasiekamp, reusagtig in omvang te laat lyk deur nie bloot van veilige kamerategnieke gebruik te maak nie.

Dit was inderdaad ʼn uitdaging om die grusame omstandighede realisties uit te beeld. Ongelukkig moet ʼn kortfilm met ʼn beperkte begroting van baie mense se goedgunstigheid gebruik maak, en ons kon dus nie tente bloot vernietig of klere aan flarde skeur nie, omdat dit aan die eienaars terugbesorg moes word. Ons het daarom meer gefokus op doeltreffende en funksionele kinematografie en om Katryn se innerlike wêreld in die klein ruimte waarin sy haarself bevind het, te wys. Die tonele is uiteraard só uitgebeeld dat die storie toeganklik kon wees vir ʼn algemene familie-georiënteerde gehoor.

Ek wou hê my karakters moes vuiler en meer gehawend voorkom. Ek wou hê die konsentrasiekamp moes groot vertoon en veral modderig gewees het, en die verlies, trauma en siektes wat daar geheers het, moes uitgebeeld word. Wat ek hieruit geleer het, is dat Forum Films ʼn groter netwerk van spesialiste sal moet opbou, veral diegene wat spesialiseer in die onderskeie velde wat bydra tot stories se trefkrag.

Ek het ook besef: as ons verwoesting wou uitbeeld, moes ons veral staatmaak op die grimeerkunstenaar en stelinkleder/kunsregisseur se bydraes, sodat dit reg/geloofwaardig op kamera kon oorkom.

 

VRAAG: Verduidelik hoe jy Katryn se innerlike landskap uitgebeeld het.

Katryn is uitsonderlik dapper en daardie eienskappe moes kragtig en gesaghebbend oorkom. Sy was nie bang om gekonfronteer of selfs gepynig te word nie. Sy is ook deur twee dapper, edel ouers grootgemaak wat haar en haar boetie voorberei het op die ergste. Die ouers het ook die geloof en vertroue by die gesin ingeboesem om uit die as te verrys indien dinge sou skeefloop en hulle alleen sonder ondersteuning moes voortbou. Katryn was nog altyd ingestel op haar voorkoms, en op haar ouderdom was haar prioriteit om haar geliefde, Karel, altyd in haar gedagtes te hou.

 

VRAAG: Jy het reeds oor die uitdagings van die draaiboek gepraat. Was daar meer as een weergawe voordat julle begin verfilm het?

Die draaiboek was ʼn reuse-uitdaging. Ek het aanvanklik ʼn ander draaiboek geskryf waarin die storie begin het met Katryn wat vlug uit die konsentrasiekamp, vrou-alleen huis toe stap, en tydens haar staptog gekonfronteer word deur verskeie struikelblokke soos die natuur, joiners, hensoppers, roofdiere en Engelse voetsoldate. Nadat Katryn al hierdie ontberings oorleef het, het sy uiteindelik by haar verwoeste familiehuis aangekom, maar dit was oorgeneem deur een van die plaaswerkers se kinders.

Die seuntjie was ook alleen en het die huis op vreemde, praktiese maniere probeer beveilig. Sy onskuld het Katryn gemotiveer om tydelik van al haar pyn en ontberings te ontsnap. Sy en die plaasseun herbou die plaas en huis dan saam ten spyte van hul verliese.

Dit was die aanvanklike idee, maar het nie genoeg ondersteuning gekry nie. Hierna is ons begroting vir kortfilms nog verder ingekort. As ek steeds getrou aan die storie wou bly, moes ek dus eenvoudiger en meer ekonomies dink. Die skryfproses moes toe weer van voor af begin en ek moes met iets meer bekostigbaar vorendag kom.

Ek het Dirk Hermann se boek toe meer direk probeer uitbeeld soos dit geskryf was. Katryn se vertelling was in die kortverhaal so aangrypend oorgedra dat ek besluit het om dít die fokuspunt van die draaiboek te maak.

 

VRAAG: Waaroor gaan Begrond eintlik vir jou?

Begrond is ʼn storie van teëspoed, opstaan, vasbyt, durf en van voor af begin. Dit is ʼn huldeblyk aan die Afrikanerhart wat hier aan die suidpunt van Afrika begrónd is. Die aandag word opnuut daarop gevestig dat ʼn mens uit jou geskiedenis moet leer om altyd op te staan en moed te hou, selfs in die donkerste tye.

 

VRAAG: Watter ander probleme het jy gedurende die verfilming ondervind?

My beperkte begroting het struikelblokke geplaas op verskeie elemente van die storie wat die potensiaal gehad het om meer ontwikkel te word, meer te vertel en selfs dieper te delf. Ek het die konsentrasiekamptonele as die uitdagendste ervaar omdat ek die brutaliteit wat gewone mense ervaar het en moes oorleef, nie altyd so getrou kon naboots of uitbeeld as wat ek sou wou nie. 

Indien ons toegang gehad het tot eerstewêreldse spesialiste in spesiale effekte, sou ek my karakters meer uitgeteer wou laat voorkom, en die uitmergelende omstandighede waaronder die vrouens en kinders gely het, getrouer wou oordra. Ek sou ook beter toegang wou hê tot agentskappe wat ons kon help om die regte agtergrondakteurs (ekstras) te kry.

Ek moes wel in ag neem dat Dirk Hermann hierdie storie geskryf het om sy kinders en ander Suid-Afrikaners se kinders in te lig oor ons geskiedenis en van ʼn volk wat eintlik van onder af moes begin, maar koppig geweier het om op te gee.

Begrond is in elf dae verfilm met ʼn klein, toegewyde span van sowat 20 mense. Ons het min tyd gehad. Omdat daar nie baie dialoog was nie, moes ons veral op die visuele konsentreer.  Maar ek voel trots op wat ons onder die omstandighede kon regkry.

Bettie Kemp

Vervaardiger van die Begrond-radiodrama

Die radiodrama Begrond, is ’n verhaal van hoop. Dr. Dirk Hermann se boek, Begrond, is deur die skrywer, Joe Kleinhans, verwerk na ’n radiodrama. Hierdie verhaal is opgeneem en word uitgesaai deur Maroela Media. Dit beloof om elke luisteraar op ’n boeiende reis te neem, wat oor sewe geslagte strek.

Wat is die essensie wat jy by die luisteraars wil tuisbring?

Daar is hoop, selfs in die donkerste tye.

Wat aan hierdie radiodrama was vir jou anders as aan ander radiodramas?

Dit is ’n dokumentêre drama – en dit maak dit soveel meer aangrypend. Die geskiedenis is dikwels meer boeiend as fiksie. Dit plaas die kollig weer op plaasmoorde, wat so deel van ons bestaan geword het dat dit vir baie mense deesdae net statistieke is. Plaasmoorde word hier in al sy felheid in perspektief geplaas.

Elrich Yssel

Regisseur en draaiboekskrywer van die fliek Begrond

Wat was die lekkerste gedeelte van dié proses?

Die lekkerste deel was die skryfwerk. Dit is vreeslik opwindend om ’n storie te skep wat jy dag vir dag in jou kop bou. Ek is mal daaroor om my gedagtes lewe te gee en visuele eienskappe en emosionele hoogtepunte te skep. Dié proses is
heerlik.

Wat was die grootste uitdaging?

Die verfilming self, veral met ’n klein begroting. Dit is moeilik om so ’n groot gebeurtenis in ons geskiedenis na te maak, so
asof ons regtig dáár staan en die kamera net toevallig rol. Geweld en gemors is ook aspekte wat meer beklemtoning
kort, maar min tyd en min geld maak dit ongelukkig ’n uitdaging.

Wat is die boodskap wat jy by kykers wil tuisbring?

Ons geskiedenis is ʼn herinnering van wie ons regtig is. Ons sal veg en ons sal bou. Ons sal beskerm en behou. Ons is deel van die Afrika-grond en hier moet ons wortel skiet vir ʼn goeie toekoms.

Dr. Dirk Hermann

Skrywer van die boek Begrond